Die Vanderbijlpark-skrywer Felicia Snyman-du Toit het die 2026 Imbali-toekenning vir Afrikaans gewen — die Romance Writers Organisation of South Africa (ROSA) se mees gesogte jaarlikse literêre eer — vir haar roman Liefde met ’n doelskop.

Sy was een van twee wenners wat Saterdag, ná ROSA se algemene jaarvergadering, aangekondig is.

Snyman-du Toit is ’n prokureur wat as regskonsultant en mediator werk,en sy woon in Vanderbijlpark saam met haar man, hul kinders en wat sy self ’n “klein dieretuin van troeteldiere” noem. Die dorp kom gereeld in haar werk voor. “Een van my boeke, Hartklop in kakie, speel spesifiek hier af, en veral langs die Vaalrivier,” sê sy. “Die kinderboeke wat ek skryf, is ook gebaseer op ons eie tuin en akkerboom. Baie van die plekke hier is die inspirasie vir die plekke wat ek in my boeke gebruik. Soms selfs van die karakters.”

Liefde met ’n doelskop volg Alexa de Vos, ’n biokinetikus en rugby-afrigter wat as die dogter en suster van oud-Springbokke met rugby in haar bloed grootgeword het. Wanneer sy as agterlyn-afrigter van ’n privaat hoërskool se eerste span aangestel word, loop sy haar vas teen Bryan Becker, een van die spelers se pa’s, wat glad nie glo ’n vrou behoort sy seun af te rig nie. Die idee kom uit skolerugby, waar haar suster en swaer as onderwysers baie tyd langs die veld deurbring. “Ons leef in ’n land waar mense soms te mal is oor hulle rugby,” sê sy. “Ek hou daarvan om stereotipering uit te daag, veral wanneer dit by vrouens in sekere beroepe kom. ’n Heldin as ’n rugbyafrigter, wat boonop die held se seun moet afrig — hoeveel meer drama, passie en liefdesvuurwerke kan daar wees!”

Snyman-du Toit is sedert 2016 ’n gepubliseerde skrywer. Sy is van jongs af aan liefdesverhale blootgestel deur haar ma, haar ouma en die biblioteek, en het ná die Lenteskool-skryfkursus haar eerste Romanza voltooi, wat aanvaar is. In 2023 verskyn haar eerste kinderboekreeks, gebaseer op haar dogter en hul Boston Terriër, en in 2024 haar eerste fantasieroman. Sy skryf ook dramastukke vir skole, universiteite en feeste.

“Die oomblik wat ek die nuus ontvang het, het ek so bewoë geraak,” sê sy. “Dit is ’n eer en voorreg om tussen die groot name van romantiese fiksie erkenning te ontvang vir skryfwerk wat ’n bietjie van myself bevat. Soms, tussen werk, die lewe en die rolle wat jy moet vertolk, verloor mens moed en geloof in jouself — hierdie laat my voel asof my vlerke van drome weer kan vlieg en sweef na hoër hoogtes.”

Die Imbali-toekenning — imbali is die isiZulu-woord vir “blom” — is oop vir Suid-Afrikaanse skrywers wat in Afrikaans, Engels en isiXhosa skryf, en vir sowel tradisioneel as onafhanklik gepubliseerde boeke.

“Ek lig my hoed vir elke skrywer wat die moed gehad het om in te skryf. Elke boek het reeds ’n lang pad geloop — maande, en dikwels jare, van skryf en herskryf, van twyfel en weer probeer. Om dit dán voor die publiek te plaas om beoordeel te word, het nog meer moed gekos. En dít is iets om te vier.”
— Mariette Wenholdt, Sameroeper, Imbali-toekenning

Gevra wat sy sou sê vir iemand in Vanderbijlpark wat stilweg aan ’n liefdesverhaal skryf, antwoord sy: “Net jy kan die storie wat aan jou hart se deure klop, vertel. Niemand anders weet hoe jou karakters met jou praat nie, of het die uniekheid van jou stem nie. Indien ’n storie in jou brand en karakters jou nie wil uitlos nie — skryf. Skryf elke oomblik wat jy kan. Glo in die woorde wat jy neerpen en moenie opgee nie. Moet ook nooit bang wees om vir advies te vra en weer te probeer nie.”

Liefde met ’n doelskop is beskikbaar by Lapa en op Amazon